GEBEDSTEMAS

Week 1 - Fokus op God en Sy werk in my

Dag 1 - Aanbid God

God is waardig om aanbid te word. Hy was daar toe alles begin het en Hy sal daar wees wanneer alles eindig. Hy is die Een in beheer. Hy is die Een op die troon. Kom ons loof en prys Hom vir sy grootheid, almag, liefde en krag.


Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.


Hebreërs 4:16
Maar daar kom 'n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen. God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom deur die Gees en in waarheid aanbid.
Johannes 4:23-24



Nader tot God en Hy sal tot julle nader.



Jakobus 4:8

Dag 2 - Gee oor aan God

Jesus het sy dissipels geleer om te bid dat God se koninkryk moet kom en baie keer is dit dat die koninkryk ook dieper in ons lewens moet kom. Vra die Heilige Gees om jou te wys in watter areas van jou lewe het jy nog nie oorgegee nie, en doen dit dan.



Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog.



Jakobus 4:10
En nou doen ek 'n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.

Romeine 12:1



Laat wat jy doen, aan die Here oor, dan sal jou voornemens geluk.



Spreuke 16:3

Dag 3 - Afhanklikheid van God

Ons het God nodig in hierdie onseker tye van ons lewe. Ons het Hom nodig in ons professionele lewens. Ons het Hom nodig in ons huwelike en verhoudings. Ons het Hom nodig om ons kinders groot te maak.  Sê vir die Here waar en hoe jy Hom nodig het.


Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.


Spreuke 3:5-6



Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige.


Sagaria 4:6



Daarom moet jy in stilte op die Here vertrou en jou nie ontstel oor die voorspoedige lewe van 'n skelm nie.


Psalm 37:7

Dag 4 - Persoonlike Visie

God het jou gemaak met 'n spesifieke doel. God het drome en take vir jou om te verrig. God het ook 'n visie en plan vir jou lewe in hierdie jaar. Visie en roeping dien as 'n anker en vastigheid in ons lewens wanneer dinge deurmekaar is. Vra die Here om sy visie vir jou te openbaar.

U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder...Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal!


Psalm 139:13, 17


God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.


Efesiërs 2:10

Mag dié God julle toerus met alles wat goed is, sodat julle sy wil kan doen. Mag Hy deur Jesus Christus in ons tot stand bring wat vir Hom aanneemlik is.


Hebreërs 13:21

Dag 5 - Gehoorsaamheid aan God

Wanneer God in beheer is van ons lewe is dit belangrik dat ons gehoorsaam is aan sy wil en doen wat Hy van ons vra. Gehoorsaamheid aan God is ook deel van ons toewyding en liefde vir God. Vra die Here wat Hy op die oomblik van jou verwag of waar het jy nog nie gedoen wat Hy gevra het nie.


Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself.



Jakobus 1:22


Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons sy gebooie gehoorsaam. Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie,


1 Johannes 5:3


As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer.




Johannes 14:15

Dag 6 - Behoeftes in Jou Eie Lewe

God is 'n goeie Vader wat weet wat ons nodig het. Hy nooi ons uit om tot Hom te nader en te vra wat ons nodig het. Vra die Here wat jy nodig het op hierdie stadium. Vra Hom om uitkoms te gee indien nodig. Hy is lief vir jou en Hy wil hê dat jy vra. Hy kan JA of NEE of WAG 'N BIETJIE antwoord.


En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk.

2 Korintiërs 9:8


Gee ons vandag ons daaglikse brood...
julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het.


Matteus 6:11, 32


Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.


Filippense 4:6

Dag 7 - Bewuswording van God se Gees

God is by ons deur sy Gees, maar ons is nie altyd bewys van sy teenwoordigheid nie. Hoe ervaar jy die Here op die oomblik? Hoe duidelik hoor jy sy stem? Vra die Here dat Hy jou sal vul met sy Gees en dat jy meer en meer bewus sal wees van God Immanuel - God by ons.


God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” Daarom kan ons met vertroue sê: “Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie:

Hebreërs 13:5-6



En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.



Matteus 28:20




Hy moet meer word en ek minder.



Johannes 3:30

Week 2 - Fokus op God se Koninkryk

Dag 8 - Herlewing In Ons Land

Die begin van enige herlewing is altyd gebed. Ons het nodig om te bid en te vra dat die Here ons land sal verander, maar God werk van binne af buiten toe. God bring verandering in mense se lewens en eie harte voordat Hy deur hulle iets doen. Kom ons vra dat die Here mense se lewens sal verander.


en my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel.

2 Kronieke 7:14


Laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.



Matteus 6:10



Die Here gee krag aan sy volk; die Here seën sy volk met oorvloed.



Psalm 29:11

Dag 9 - Ons Gemeente en Kerk Familie

Op hierdie stadium lyk ons gemeente anders as in die verlede. Ons sien mekaar nie meer so gereeld soos in die verlede nie en ons almal bly ook nie eers in Bloem nie. Ons het mense van reg oor die wêreld wat inskakel. Kom ons bid vir eenheid en wat God in en deur ons gemeente wil doen.


Op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.



Matteus 16:18 (AFR53)
Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God. Julle is 'n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, 'n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is.
Efesiërs 2:19-20


Net so is ons, al is ons baie, in Christus een liggaam, en almal afsonderlik lede van mekaar.



Romeine 12:5

Dag 10 - Bekering van Ongelowige Mense

God het 'n missie vir gelowiges op aarde. Ons word gestuur om vir ander mense die goeie nuus van Jesus te vertel. God se hart is dat alle mense gered word en Hy gebruik gewone mense soos ons om die beste nuus op aarde te versprei. Kom ons bid dat God nog mense na Hom sal trek.


So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.


1 Timoteus 2:3-4


[Jesus] bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie.”

Handelinge 4:12

Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.

2 Petrus 3:9

Dag 11 - Eredienste

In die laaste jaar het ons byeenkomste anders gelyk as in die verlede. God doen iets wanneer mense in die Naam van Jesus bymekaar kom. God is nie beperk deur inperkings nie en wil nog steeds iets kom doen wanneer ons "bymekaar" kom. Bid dat die Here lewens sal verander deur ons dienste.


Want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.




Matteus 18:20
Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan...

Hebreërs 10:24-25

Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.


Romeine 12:1

Dag 12 - Ons Stede

God het ons in spesifieke stede of areas geplaas met spesifieke redes. God wil ons gebruik in die plekke waar ons is. God werk deur sy kerk; sy liggaam; sy kinders om 'n verskil te bring waar hulle is. Dissipels maak dinge beter. Bid vir jou stad, dorp of area waar jy bly en dat God jou daar sal gebruik.


As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs. As die Here die stad nie beskerm nie, waak dié wat dit beskerm, tevergeefs.

Psalm 127:1


Bevorder die belange van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, bid tot My vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange.

Jeremia 29:7


Julle is die lig vir die wêreld. 'n Stad wat op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie;



Matteus 5:14

Dag 13 - Vryheid, Verlossing en Genesing

God se koninkryk is 'n koninkryk van vrede, vreugde en geregtigheid. Hy wil mense vry maak en genees. Ons wêreld is stukkend en God wil herstel. Dit is God se begeerte om ons te red van sonde, ons vry te maak van ons verlede, vir ons 'n doel te gee en ons deel te maak van sy familie.


Toe sê Jesus vir die Jode wat in Hom glo: “As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.”

Johannes 8:31-32


Want die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees.


Romeine 14:17 (AFR53)


Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.

Hebreërs 4:16

Dag 14 - Ons Kinder- en Tienerbedienings

Ons het die voorreg om dit wat die Here kom doen het in ons lewens oor te dra aan die volgende geslag en hulle te help in hulle wandel met die Here. Ons het verskeie bedienings vir die verskillende ouderdomme om hulle van Jesus op hulle vlak te leer. Kom ons bid dat die boodskap ook in hierdie tyd duidelik oorgedra en verstaan sal word deur ons kinders.


Niks verskaf my groter vreugde nie as om te hoor dat my kinders in die waarheid lewe.



3 Johannes 1:4
Wat ons gehoor het en wat ons weet, wat ons vaders ons vertel het, sal ons vir ons kinders nie verswyg nie. Ons sal aan die volgende geslag vertel van die roemryke dade van die Here en van sy mag, van die wonderdade wat Hy gedoen het.

Psalm 78:3-4


“Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle.”


Matteus 19:14

Week 3 - Fokus op Mense

Dag 15 - Werksplekke, Kollegas, Universiteite en Skole

As gelowiges is ons deur die Here geplaas op verskillende plekke om te werk, te leer en te wees juis om 'n invloed uit te oefen vir God se koninkryk. Soos Jesus gestuur is, is ons gestuur. Daar waar ons is moet ons mense liefhê en bakens van hoop wees. Ons moet aanhou vra vir guns en oop deure.


Doen julle werk met lus, soos vir die Here en nie vir mense nie.




Efesiërs 6:7

Slawe, wees in alles gehoorsaam aan julle eienaars hier op aarde. Moenie net werk om deur hulle raakgesien te word en so in mense se guns te kom nie, maar werk met 'n opregte hart uit eerbied vir die Here.

Kolossense 3:22


Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.


Matteus 5:16

Dag 16 - Mense Wat Vasgevang Is

Talle mense is op hierdie stadium vasgevang in dinge wat hulle beheer, vashou of keer om die volheid van 'n lewe saam met God te ervaar - verlede, verslawings, sondige patrone, ensovoorts.
Kom ons bid dat mense die vryheid wat daar in Jesus is sal beleef in hulle lewens.


Waar die Gees van die Here is, is daar vryheid.




2 Korintiërs 3:17


Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder 'n slawejuk laat indwing nie.

Galasiërs 5:1



Hy het vryheid vir sy volk bewerk




Psalm 111:9

Dag 17 - Families en Huwelike

In die laaste jaar het baie gesinne, families en huwelike swaar getrek as gevolg van die inperking en die pandemie. Vir ander het dit verhoudings kom versterk. Kom ons bid vir die beskerming van huwelike en die herstel van verhoudings wat skade gelei het sodat ons sterk gesinne sal hê.


Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.


Efesiërs 4:32


Julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê.



Johannes 13:34

Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!


Numeri 6:24-26

Dag 18 - Leiers en Mense oor Ons

Leiers en mense in gesag oor ons moet sekere besluite neem en dinge in werking stel wat 'n invloed op ons het in 'n mindere of meerdere mate. Gesag is iets wat die Here gee en eer is iets wat die Here verwag ons moet aan mense gee. Kom ons bid vir ons leiers vir wysheid en onderskeidingsvermoë.


Julle moet alle mense respekteer en julle medegelowiges liefhê. Vrees God. Eer die keiser.



1 Petrus 2:17

Elke mens moet hom onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is. Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie, en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God.

Romeine 13:1
Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons 'n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid.
1 Timoteus 2:1-2

Dag 19 - Oorwinning oor die Vyand in Mense Verhoudings

Die Bybel maak dit duidelik dat ons in 'n geestelike geveg is. In die laaste jaar was daar baie frustrasies, misverstande, verdeeldheid en kwade gevoelens tussen baie mense. Baie mense verhoudings het skade gelei. Kom ons bid vir oorwinning oor die vyand en beskerming van verhoudings.

Soek julle krag in die Here en in sy groot mag. Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel.

Efesiërs 6:10-11
Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig...
Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.

2 Korintiërs 10:4-5

'n Dienaar van die Here moenie rusie maak nie. Inteendeel, hy moet vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om ander te leer en iemand wat onreg kan dra.


2 Timoteus 2:24

Dag 20 - Mense se Finansies

Die Here is 'n Voorsiener en 'n goeie Vader. Hy weet wat ons nodig het. Hy weet watter impak die inperkings en pandemie op besighede en mense se finansies het. God is ook die Persoon wat herstel bring. Kom ons bid vir die Here se voorsiening in mense se lewens en geleenthede vir besighede.


God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk.

2 Korintiërs 9:8


Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: “Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik.”



Matteus 19:26


Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.




Psalm 23:1

Dag 21 - Ons Hart vir Mense

Klop ons hart nog dieselfde as God s'n vir mense? Sien ons soos Hy sien? Het ons 'n agting en respek vir mense? Soms is dit goed om ons eie hart te toets en die nodige aanpassings te maak sodat ons sal optree en reageer soos Jesus teenoor mense en dat hulle sy hart in ons kan sien.


As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.




Johannes 13:35


Stel julleself op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe. Besef julle dan nie self dat Christus Jesus in julle is nie?


2 Korintiërs 13:5
God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.
Johannes 3:16-17