Trek Jou Dansklere Aan!


Flowers_Calvinia_Malcolm_Cerfonteyn_960_472_80auto_s_c1_center_center“Let op hoe groei die veldlelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie. Maar ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie. As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie….” Matteus 6:28-30

Die Karoo is aan ons bekend. Ons ken sy groot ooptes, geklee in min… of so het ek gedink. As kind het ek nie veel waardering vir die Karoo gehad nie. Ek hou van die goue Vrystaatse gras en is lief vir baie water. As iemand oor die mooi in die Karoo gepraat het, het ek stil-stil gedink; “Ag siestog. Hulle was seker nog nie in die Oos-Vrystaat of Laeveld nie.”

Die Karoo lyk vir my altyd dors. Die mooi was iewers weggesteek en die ooptes was vir my net te oop. Ons kry egter onlangs ‘n geleentheid om saam met vriende kuier-kuier af te ry Victoria-Wes toe vir ‘n veiling. My man is lief vir die Karoo en ons is lus vir die lekker gesels. Ons groet die Vrystaat en kort voor lank word ons deur klippiesgrond en ysterklip-rante ontvang. Deur my grootword van die afgelope klompie jare sien ek dit nou ook. Die Karoo is skielik vir my mooi.

Hulle het goeie reën gehad en die plantjies is tog te gewillig. Daar is pers vygies en geel botterblommietjies. Daar is wit bossies blomme wat oral opskiet en ek verbeel my dat die wit bietjie witter is as die “gewone” wit. By die veiling groet ‘n gawe vrou ons. Sy maak verskoning vir die koue weer wat sy straks nie bestel het nie en sê; “Jammer oor die koue. Die Karoo het nie haar dansklere aan nie.”
Soos die Karoo wys ons dalk ook so bietjie meer van ons mooi na goeie reën. Nie die druppels uit die wolke nie, maar die lewende water van Sy genade uit die Woord. Ons is so afhanklik van Sy goedheid en dis eintlik maklik bekombaar. Soms moet ons net by Hom gaan sit en ons siel nat ly met Sy waarheid. Dis net deur Hom dat ons hartsvelde vol in blom kan staan sodat ons ander kan bedien.

“Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader wat die hemelligte geskep het, maar wat self nie soos hulle verander of verduister nie. Omdat dit Sy wil was het God ons deur die Woord van die waarheid tot lewe gebring, sodat ons, om dit so te stel eerstelinge kan wees van alles wat Hy geskep het.” Jakobus 1: 17-18.

Mag ons hartsvelde in volle blom staan deur die bediening van Sy Woord. Mag die onrustigheid in ons wese by Sy stille waters gaan vrede vind. Mag ek en jy ons dansklere aantrek en fees vier oor die Vader God wat ons kom klee in Sy liefde, genade en guns.