Voetspore


 

A good character is the best tombstone. Those who loved you and were helped by you will remember you when forget-me-nots have withered. Carve your name on hearts, not on marble.” Charles Spurgeon.

Die verse uit Galasiërs en aanhaling deur Charles Spurgeon is deel van ‘n stukkie wat ek Sondae ontvang. Dis vir my waar en mooi en my gedagtes gaan terug na ‘n belewenis so rukkie terug. Dit het begin langs ‘n netbalbaan. ‘n Jong dogter  stap van die baan af. Haar trotse pappa en mamma wag haar in. Haar pa sit sy arm om haar skouer en gee haar ‘n soen. Ek kry lekker, want ek sien hoe trots hy op haar is en hoe lekker sy pa-hart voel oor hierdie mooi dogter van hom. Ek ken hierdie gesin van vier. Ek weet dat hulle deur ‘n moeilike tyd is. Die pappa was in ‘n lelike motorongeluk en die herstelpad was lank en moeilik. Hierdie mense stap saam ‘n pad. Dit maak die prentjie langs die netbalbaan nog mooier.

‘n Paar oggende later stap ek uit ‘n vergadering by ons skool. Daar is ‘n gedruis in die kantoor en ek vra wat aangaan. Iemand verduidelik dat die trostse pappa vroëer die oggend verongeluk het. Die familie is oppad om sy twee dogters te kom vertel. Dit ruk aan my hart. Dit ruk aan elkeen wat dit hoor se hart. “Hoe dan nou, Here? “ vra-soek my hart na ‘n antwoord.

Ek praat later met die mamma om te simpatiseer. Haar woorde eggo wat ek gesien het. “Hy was so lief vir ons. Sy gesin was sy hele lewe. Hy was so trots op sy kinders.” Deur die seer en groot verlies is daar ‘n getuienis wat so mooi hierdie man en pappa omskryf. Dit is die liefdesboodskap om sy vrou en kinders se harte. Hulle was geliefd.

Ons weet nie aldag hoe ons pad gaan loop nie. Ons weet wel dat elkeen se paatjie iewers stop. Elkeen van ons het ‘n afspraak met die dood. Dit is ‘n gegewe. Hoe en wanneer hierdie afspraak gebeur, is eintlik net die einde van ‘n pad. Dis dit wat jy agterlaat aan jou geliefdes wat definieer wie en wat jy is.

As ek eendag huistoe gaan, sou ek graag wou weet dat my man, kinders, familie en vriende met sekerheid  weet dat ek hulle lief gehad het. Ek sou graag wou weet dat hulle nie gekneus is deur my woorde en dade nie. Ek sou wou weet dat hulle deur my lewe, ietsie van ons Hemelse Pa se genade en vrede kon sien. Ek sou wou weet dat hulle my sal onthou as iemand in wie se hart hulle altyd spesiaal was.

Mag die spore wat ek en jy trap helder liefdespaatjies in ons sielsmense se harte ager laat. Mag dié wat ons pad kruis iets ervaar van ons Hemelse Pa se hart en onvoorwaardelike liefde. Mag ons nooit moeg word om goed te doen aan die mense om ons nie. Dis tog die liefdesboodskap waardeur ons Here Jesus se aardse lewe ook geken is!

“I asked Him; “How much do You love me?” He opened His arms and died!”

Geskryf deur Nala Victor

Leave a comment