Sing Voluit


As klein dogterjie onthou ek so goed hoe my oupa Jannie in die kerk baie hard gesing het.  Boonop was hy ‘n lang man en het uitgestaan bo die res. Die Kerk het geweet dat Oupa kom kuier het.

Dan was daar my tannie Ella. Ons is ‘n paar keer na die NG kerk in Wepener waar sy in die koor gesing het.  Ek het altyd gedink dat dit is hoe dit moet klink as iemand se stem gebreek het. Sy het so bewe in haar stem gehad. As ons uitstap het die familie altyd opgemerk hoe mooi Ella kon sing. Vir my was dit snaaks, want hoe kan ‘n gebreekte stem dan nou mooi wees. Dis dan stukkend? Later jare sou ek in ‘n kerk in Bethlehen langs die valste van vals mans  land. Boonop was sy volume op die hoogste gestel en ek het nie geweet of ek moet lag of huil nie. Iemand anders het die opmerking gemaak dat hy darem vreeslik vals sing, waarop hy geantwoord het: “Ek sing mos nie vir jou nie.”

Ons is almal maar so bietjie van noot af, as dit by ons eie lewens kom. Sommiges van ons “sing” te hard en ander se stemme bewe. Van ons “sing” heeltemal vals. Ja, ons is defnitief nie foutloos nie. Ons is maar ‘n deurmekaar spulletjie wat soms jok, of skinder. Ons maak mense om ons seer as ons te hard praat en verloor vriende wanneer ons vals is. Ons is ook baie keer onnodig bang en bewe van vrees oor bangmaak dinge. Dit is waarom ons iemand nodig het wat ons help. Heilige Gees is juis hier vir ons. Hy is so getrou. Hy maak ons bewus van dinge om ons en dan kan ons die “vals” en “gebreek” vir Jesus gee want Hy is tog ons Dokter. Hy maak reg en heel dít wat vir ons so onmoontlik is om self reg en heel te maak. Ons kan maar net na Hom toe gaan. Ons kan sensitief luister na Heilige Gees en by Sy genadetroon ons harte oopmaak.

“ For all who are led by the Spirit of God are sons of God. For [the Spirit which] you have now received [is] not a spirit of slavery to put you once more in bondage to fear, but you have received the Spirit of adoption [the Spirit producing sonship] in [the bliss of] which we cry, Abba (Father)! Father!

The Spirit Himself {thus} testifies together with our own spirit, [assuring us] that we are children of God. And if we are [His] children, then we are [His] heirs also: heirs of God and fellow heirs with Christ [sharing His inheritance with Him]: only we must share His suffering if we are to share His glory.” Romans 8:14-17

Hoe trots was ek nie op my lang, harde stem Oupa nie. Hy was nie eers skaam nie. Ek het lekker gevoel as my naamgenoot tannie met haar gebreekte stem mooi komplimente uitlok. My hart het warm geklop toe die vals-sing man sê vir Wie hy sing. Sy hart was nie vals nie, sy stem was, en die Here ken sy hart. Ons kan maar net roep: Abba, Vader! Heilige Gees sal ons gebreekte sinne voltooi en al ‘sing’ ons hoe vals, Hy hoor ons lied.

Geskryf deur Nala Victor