Jou Kind en Sosiale Media


Twee weke terug het ek geskryf oor die potensiaal van sosiale media vir die uitbreiding van God se koninkryk, asook ‘n paar wenke oor hoe jy jou eie aanlyn teenwoordigheid strategies kan gebruik om mense te bereik met die Goeie Nuus.

Sedertdien het ek ‘n klomp gesprekke gehad met verskillende mense oor een vraag:

 

 

Hoe hanteer ek my kinders se gebruik van sosiale media?

Dit lees dalk soos ‘n lomp, wye vraag, maar ek het agtergekom dat ouers dit moeilik vind om hierdie behoefte spesifiek uit te druk.  Ons almal is gewoond aan die gesig van tieners, en self jonger kinders, vasgenael aan hulle slimfone.  Ouers kla oor hoe moeilik dit is om ‘n gesprek te hê met hulle kinders omdat hulle aandag elders lê.  As iemand wat met jong tieners werk op ‘n weeklikse basis, is ek al te bekend daarmee.  As ek maar net ‘n R5 gekry het elke keer wat ek moet sê: “Sit weg julle fone”, was my kar al afbetaal.  Ouers, ek ken julle frustrasie, en ek hoor julle kreet om hulp…  So vandag wil ek vir jou ‘n paar wenke gee wat jou sal help om jou kinders te help om ‘n gesonde verhouding met sosiale media te kweek, maar voor ons by dit kom, is daar eers iets anders wat ons oor moet praat…

Aanlyn Burgerskap

Dit is die term wat kenners gebruik om die integrasie van inligtingstegnologie en veral sosiale media en die internet, in ons lewens te beskryf.  Almal van ons het al tot ‘n mate ‘n digitale voetspoor of twee gelos in hierdie aanlyn wêreld.  Selfs al is dit net jou bankbalans iewers op ‘n databasis. Vandag se samelewing is een wat opgemaak is uit 3 generasies as dit kom by die integrasie van inligtingstegnologie in ons lewens.  Daar is die ouer generasie wat eers  toe hulle reeds op ‘n gevestigde stadium in hulle lewens was, hulle eerste kennismaking met hierdie nuwe digitale wêreld gehad het.  Vir hulle was die oorgang ‘n skielike, en met tye baie ongemaklik en miskien selfs ‘n bietjie vreesaanjaende ontmoeting.  Toe kom die tussenin generasie waarvan ek selfs deel is.  Ons het groot geword met die ontwikkeling van inligtingstegnologie, soos ons vandag ken.  Vir ons was die oorgang na hierdie nuwe manier van lewe ‘n geleidelike een, aansienlik makliker en meer natuurlik as vir ons ouers.  Ons is aanlyn burgers omdat ons kies om te wees.  Digitale immigrante.  En dan is daar die geslag na ons… Vir hulle was daar glad nie ‘n oorgang nie.  Vir hulle is daar nie ‘n nuwe digitale wêreld nie.  Dit is die enigste wêreld wat hulle ooit sal ken, want hulle is in dit in gebore.  Digitale inboorlinge.  Dit is hulle norm, en hulle hou daarvan.  Hulle het nie twee lewens nie, maar die een wat hulle het, beslaan beide die fisiese en digitale ruimtes.  Vir iemand wat net ‘n besoeker is, kan dit egter vreemd en onwerklik voel, en daarin lê die grootste bron van ons frustrasie.  Hoe nou gemaak?  Hier is daardie beloofde wenke:

  • Aanvaar jou kind se aanlyn burgerskap. Hierdie is seker die grootste stap wat jy as ouer kan neem in hierdie verband.  Dit beteken nie dat jy nie jou kinders se gebruik van die internet en sosiale media moet monitor en bestuur nie (Jy moet verseker – daardie wenke kom nog.), maar wel dat jy vrede moet maak met die tweeledige geaardheid van hulle lewens.  Jou kind is nie antie-sosiaal deur heeldag aan daai slimfoon vasgenael te wees nie. Die teenoorgestelde is eerder waar.  Toe ek ‘n kind was en wou weet waar my maatjies is, het ek die buurt op my fiets plat gery en gekyk op wie se sypaadjie lê al die ander fietse.  Die sypaadjie met die fietse op is wel vervang met ‘n slimfoon in die sak, maar die behoefte en die doel het dieselfde gebly.

  • Wees bewus van die gevare. Baie sosiale media platvorms kom met ‘n ingeboude ouderdoms beperking, en met goeie rede.  Dit is egter nie almal nie, so as ouer sal jy self daardie ouderdoms beperking moet implementeer en kommunikeer.  Dit is vir jou as ouer om te besluit op watter ouderdom jou kinders toegelaat sal word om sosiale media te gebruik, en dan kan julle hierdie gesprek hê.  Maak veral seker dat jou kinders die gevare van sosiale media verstaan, veral die teenwoordigheid van boelies, booswigte, en natuurlik die trolle (sien my vorige artikel).

  • Monitor wat jou kind deel met ander. ‘n Maklike manier om dit te doen is om self aan te sluit op sosiale media, en dan jou kind te ‘friend’ of volg. As jy dan iets sien wat vir jou as ouer rooi ligte laat flikker, moenie bang wees om met jou kind  daaroor te praat nie.  Maak net seker dit is ‘n gesprek en nie ‘n uittrap sessie nie.  Vind uit hoekom hulle dit gedeel het en hanteer dit dan gepas.  Meeste sosiale platvorms maak dit ook moontlik om te sien met wie jou vriende almal bevriend is en wie hulle volg.  Jy kan dit gebruik om te sien met wie jou kind in verbinding is.  Wees egter versigtig om nie hulle vertroue in jou te skend deur hulle privaatheid te minag nie.

  • Doen weg met dubbele standaarde. As jy wil hê jou kind moet ‘n gesonde verhouding met sosiale media hê, moet jy ook.  Moenie foto’s en boodskappe plaas wat jy nie sou wou hê hulle moet plaas nie.  Bly weg van daardie vuil grappies en vulgêre of gewelddadige video’s, en wees versigtig vir die gesprekke wat jy aan deelneem.

  • Laai al die selfone in julle huis op dieselfde plek. Hierdie is ‘n handige wenk om daardie kosbare gesinstyd in die aande te beskerm.  Kom ooreen op ‘n plek wat nie in ‘n slaapkamer is nie, en maak seker dit is waar al die selfoon laaiers is.  Iewers in die kombuis is miskien ‘n goeie plek.  Dit sal ook verseker dat jou kinders (en miskien jyself) daardie broodnodige slaap inkry.

  • Leer hulle die waarde daarvan om in die oomblik teenwoordig te wees. Sosiale media maak dit moontlik vir ons om aandag te gee aan iets wat ‘n halwe wêreld van ons af gebeur, maar baie keer ten koste van die oomblik waarin onsself bevind.  Leer jou kinders dat nie alles wat hulle foon laat vibreer, dadelik aandag hoef te kry nie.  Leer hulle ook om eerder hulle vriende te bel as om daardie lang voice notes te stuur.  Hulle gaan niks daarvan hou aan die begin nie, maar later sal hulle jou bedank daarvoor.  Leer hulle om te wees waar hulle is.

  • Moenie huiwer om die foon weg te vat nie. Die Bybel maak dit duidelik dat dit goed is vir ‘n kind om so nou en dan getug te word.  Op die manier leer ons dat ons aksies gevolge het, en slegte gedrag lei tot onaangename gevolge.  Hou egter in gedagte dat, weens hulle aanlyn burgerskap, so ‘n straf hulle bietjie dieper raak as wat dit my en jou sou raak, so wees redelik en maak seker hulle verstaan hoekom, en vir hoe lank.

  • Reëls sonder verhouding lei tot rebellie. Ek kan nie die belangrikheid van hierdie punt oordryf nie.  Dit is ook nie net van toepassing op die kwessie van sosiale media nie, maar in die algemeen ook.  Maak tyd en doen moeite om verhouding te bou met jou kinders.  Die antwoord vir ongehoorsaamheid lê in verhouding, meer as in tug.  Die onderwerp van sosiale media kan ‘n goeie begin punt wees vir dit.  Onthou, hulle is die inwoners en jy die besoeker.  Vra hulle om jou rond te wys.

Ek wil afsluit met hierdie gedagte:  Kinders het twee groot behoeftes.  Vir Seuns is dit om te weet dat hulle goed genoeg is, dat hulle het wat dit vat, en vir meisies is dit weer ‘n soeke na waarde, hulle wil weet dat hulle raakgesien en waardeer word.  Sosiale media bring die gevaar dat hierdie behoeftes op ‘n ongesonde en valse manier aangespreek word, en dit kan maklik in ‘n verslawing verander.  Dit lyk dalk soms of dit ‘n verslawing aan sosiale media, maar dit is eintlik ‘n verslawing aan die gedagte dat mense van hulle hou.  Die grootste antwoord hiervoor is om seker te maak dat hierdie behoeftes wat diep in kinders se harte leef in die eerste plek by die huis, op ‘n gesonde wyse en met waarheid vervul word.  Kinders is vir God uiters kosbaar, en ek weet vir julle as ouers ook.  Maak seker hulle weet dit ook.

Geskryf deur John van der Merwe