Oorvloed Lewe


Joh 10:10 n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.

Wat is oorvloed lewe?  Is dit ‘n probleemvrye, pynlose lewe waar al jou drome bewaarheid word?  Dit klink vir my baie soos die hemel, maar ons lewe nog op die onvolmaakte aarde wat aan sonde en verganklikheid onderworpe is.

Waarvan praat Jesus dan in Johannes 10:10?  Oorvloed lewe is om werklik tevrede te wees met jou lewe ongeag van jou situasie en wat om jou in die wêreld gebeur.  Dit is om te weet dat ek altyd in die veilige skadu’s van die Allerhoogste kan skuil, al woed daar storms om my (Ps. 91:1). Dit is ook om Sy vrede te ervaar wat alle verstand te bowe gaan. (Fil. 4:7)

Hoe kan ek hierdie oorvloed lewe kry?  Jesus is ons antwoord, maar ons moet Hom met ons hele hart soek.  Matt 6:33 “Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee”.

Die koninkryk van God is soos ‘n waardevolle pêrel.  Jy gee alles prys om hierdie pêrel te vind.  Matt 13:46 “As hy ‘n baie waardevolle pêrel raakloop, gaan verkoop hy alles wat hy het, en koop die pêrel.”

Ons is geneig om meer tyd te spandeer met die dinge van die wêreld en vergeet dan wat ons eintlike doel hier op aarde is.  Ons het elkeen ‘n keuse van watter dinge ons in ons lewens voed, die goeie of die slegte.

Dit laat my dink aan ‘n storie van 2 wolwe, wat ek in Pieter van Jaarsveld se boek , Dink jouself gelukkig, gelees het:

‘n Ou man het met sy kleinseun gesit en gesels en vir hom dié storie vertel: “ Binne die mens is daar ‘n geveg tussen twee wolwe.  Die een is Ongeluk.  Dit is vrees, kommer, woede, jaloesie, selfbejammering, minderwaardigheid.  Die ander is Geluk.  Dit is vreugde, liefde, hoop, tevredenheid, goedhartigheid, empatie, eerlikheid, mededeelsaamheid.”  Die seuntjie het ’n rukkie gedink  en toe gevra: “Wie van hierdie twee wolwe wen?”  Die ou man het geantwoord: “Die een wat jy kos gee”.

Een manier om geluk te voed, is deur lofprysing.  Lofprysing is ‘n kragtige wapen wat ons kan gebruik teen die aanvalle van die bose.  Die vyand sal probeer om ons oorvloed lewe te steel, maar ons moet paraat wees.  Ons moet leer om Jesus se stem te herken en te volg deur Sy Woord, gebed en  stil-word en lofprysing.

Hillsong het ‘n lied met die volgende woorde: “I’m coming back to the heart of worship, and it’s all about You, it’s all about You Jesus!”

Dit is God se wil vir ons om oorvloed lewe in die hier en nou te beleef.  Dit verskaf vir Hom vreugde om te weet dat sy kinders gelukkig is.  Hy het ons gemaak sodat Hy ons kan geniet en ons Hom kan geniet – dit is oorvloed lewe!  Jer. 29:11 “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!”

Negatiewe emosies en ervarings is nie wat God vir ons beplan het nie, alhoewel dit vollop in hierdie lewe voorkom.  Kies om daardie negatiewe emosies en ervarings by die kruis van Jesus te los en te fokus op dit wat goed en aaneemlik is.  Dit bring ons by oorvloed lewe, waar ons prioriteite in lyn sal  kom met wat God vir ons beplan.

Waarop fokus jy?  Oorvloed lewe is slegs in Jesus te vind!

 

Geskryf deur Liezel Pretorius