Christen in ‘n Aanlyn Wêreld


Sosiale media is deel van ons daaglikse lewe.  Vir baie van ons beslaan dit daardie paar minute tussen wakker word en opstaan, selfs voor daardie broodnodige koppie koffie.  Vir party van ons is dit ‘n bron van nuus, ‘n manier om op hoogte te bly met die wêreld rondom ons, en vir ander is dit weer ‘n venster tot die lewens van hulle vriende.  Ongeag die waarde wat sosiale media vir jou inhou, is een ding seker:  Sosiale media het oor die laaste dekade ‘n diep geïntegreerde deel van die samelewing geword.

Nog nooit van te vore was inligting so maklik bekombaar soos vandag nie, alhoewel die akkuraatheid van daardie inligting nooit regtig deel vorm van die gesprek nie.  Met bykans onbeperkde toegang tot vermaak, nuus, en selfs skinderstories, het die internet die mees effektiewe platform geword om inligting op te versprei, en as dit eers daar buite is, bly dit daar.  As die internet soos ‘n padnetwerk is, is sosiale media platforms, soos Facebook en Instagram, die advertensie borde wat ons oral langs die pad sien.  Die vraag waarmee ons dus gekonfronteer word is:

 

Hoe lewe ek as ‘n Christen in hierdie aanlyn wêreld?

Die eerste ding wat ons as Christene moet besef is dat die internet in dit self nie noodwendig goed of sleg is nie.  Dit is net ‘n stuk gereedskap.  Soos ‘n hammer of ‘n saag.  Dit kan gebruik word om te bou en om af te breek.  Die verantwoordelikheid (en aanspreeklikheid) lê dus by ons, die gebruikers.

As iemand wat met baie kinders en jongmense werk, word ek gereeld gevra oor die gevare van sosiale media… “Is dit OK vir my kind om op Facebook te wees?”;  “Is daar regtig mense wat sal voorgee om my vriend te wees, maar wat my eintlik wil misbruik?”;  “Wat sal gebeur as ek daardie resep wat my tannie op Facebook gedeel het probeer maak?”.  My raad is altyd dieselfde… Wees versigtig.  Ja, daar is gevare daar buite, maar dit was nog altyd waar.  “Pasop vir vreemde mense”, het my ma altyd gesê, en toe was daar nog nie eers selfone nie.  Die internet het dit net makliker gemaak vir booswigte en boelies om hulle verwoesting te saai.  Daar is egter ‘n ander kant aan die muntstuk ook, want sien, die boelies en booswigte is nie die enigstes met ‘n agenda nie.  As Christene, die kerk, die liggaam van Christus, het ons ook ‘n boodskap.  ‘n Missie.

 

“Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”

– Matteus 28:19-20

 

As die internet maar net ‘n stuk gereedskap is, sal dit mos onverantwoordelik wees van ons om dit nie te gebruik nie, ten spyte van al die duisternis hier binne.  Onthou, ‘n lig in die donker kan van ver af gesien word.  Daarom het ons vir die kerk ‘n sterk aanlyn teenwoordigheid geskep:

  • Ons het ‘n webwerf waarop inligting oor die kerk en hulpmiddels (soos hierdie artikel) beskikbaar is.

  • Ons het ‘n Facebook “Page” waar mense op hoogte kan bly met weeklikse gebeure by die kerk en kan deelneem aan die gesprek wat by die dienste begin word.

  • Daar is ook ‘n Facebook “Group” waar vriende en lidmate van ons gemeente met mekaar kontak kan hê buite die kerk gebou, waar hulle kan vra vir hulp en deel oor wat God besig is om in hulle lewens te doen.

  • Ons dienste word ook via YouTube “gestream”.

  • Ons gebruik die Church Online platform sodat mense wat via die internet inskakel, die geleentheid kan hê om te deel in die ervaring van kerk, selfs al kan hulle nie die dienste fisies bywoon nie.

 

Op ‘n soortgelyke wyse kan jy as individu strategies wees met die manier waarop jy die internet en sosiale media gebruik om die opdrag wat aan ons gegee is deur Jesus, uit te voer, en die beste deel is dat jy nie veel meer hoef te doen as wat jy al klaar doen nie… Maar wel dalk ‘n bietjie anders.  Hier is ‘n paar wenke:

  1. Wees Vriendelik. Daar is ‘n woord vir mense wat konstant ongeskik, afbrekend en boelies op sosiale media is.  Ons noem hulle internet trolle.  God wil nie hê jy moet ‘n trol wees nie.  Moenie in ‘n stryery betrokke raak waar jou humeur getoets gaan word nie, en wanneer jy iets plaas, maak seker dat dit waar, opbouend en behulpsaam is. ‘n Oulike boodskap, video of versie kan ‘n groot verskil maak in iemand anders se dag.  Om veilig te wees, vermy gesprekke oor politiek, rassekwessies en ander gelaaide onderwerpe.  Dit kan die aandag aftrek van wat jy eintlik probeer bereik met jou aanlyn teenwoordigheid.

  2. Wees ‘real’. Daar is al klaar te veel valsheid op die internet.  Wees opreg.  Moenie maak of dit goed gaan as jou hart gebreek is nie, en maak seker dat dit wat jy plaas op sosiale media regtig die waarheid is, veral as dit iets is wat jy net aanstuur.  ‘n Vinnige Google soek kan baie keer vir jou sê of iets waar is of nie.  As mense agterkom dat iets wat jy geplaas het vals is, gaan hulle die waarhede wat jy plaas ook ignoreer.

  3. Facebook hoef nie alles te weet nie. Partykeer gaan ons deur moeilike, swaar tye wat diep persoonlik van aard is.  Vertel dit vir ‘n vriend of familielid wat jy vertrou en wat vir jou omgee en wat saam met jou en vir jou kan bid daaroor.  Moet dit nie op Facebook sit nie!  Ek sien te veel dat mense hulle swaarkry goedkoop maak deur dit op sosiale media te plaas.  God wil baie keer ‘n kosbare werk in jou lewe kom doen in jou uitdagings.  Wag tot hy klaar is met dit voor jy dit vir die hele wêreld vertel.  En dit bring my by my…

  4. Deel jou getuienisse. Moenie bang wees om te praat oor dit wat Jesus al in jou lewe kom doen het nie.  Maak net seker dat daardie spesifieke saak al afgehandel is.  Iemand anders, wat jy dalk nog nie eers ontmoet het nie, kan dalk deur iets soortgelyk gaan en het nodig om dit te hoor.  Wees egter versigtig, want nie almal op jou lysie kontakte is noodwendig reg om dit te hoor nie, en jy mag dalk weerstand ervaar.  Ignoreer die trolle (sien wenk een), en moenie ingetrek word in ‘n vrugtelose stryery nie.

  5. Wees normaal. Wees versigtig dat jy nie jou Facebook en Instagram kontakte bombardeer met ‘n boodskap wat onpersoonlik is en eentonig raak nie.  Dit is heeltemal aanvaarbaar om as ‘n Christen, so nou en dan oor alledaagse dinge te gesels.  Partykeer is dit die lig en oppervlakkige gesprekke wat die deur oopmaak om die belangrike gesprekke te kan hê.

 

Die grootste, en meer algemene gevaar van sosiale media, is vir ons om ‘n onnodige hoeveelheid tyd te spandeer aan iets wat nie ewigheidswaarde het nie… So wees anders.  Wees die lig in ‘n donker internet, wees kreatief en effektief in jou gebruik van sosiale media, want die boodskap wat jy as Christen het is dit werd.

“Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.”

–  Matteus 6:33.

Geskryf deur John van der Merwe