Vreugde en Vrede


Die lewe is nie maklik nie.  Ons lewe nie in ‘n sprokieswêreld nie.  Ons het almal ‘n besige skedule en soms voel dit of daar net nie genoeg ure in ‘n gewone dag is nie.  Slegte dinge gebeur orals en partykeer lyk dit of alles inmekaar wil tuimel.

Hoe kan ek elke dag vreugde & vrede ervaar in alle omstandighede? Vreugde is ‘n gawe van God.  Die Prediker stel dit so:

Pred 5:19 “So ‘n mens dink skaars na oor wat in sy lewe gebeur, so vol is hy van die blydskap wat God gee”.

Psalm 37:4: “Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer”.

Hoe kan ek my vreugde in die Here vind in hierdie besige lewe?

Ons moet daagliks by die hart van God uitkom.  Maak daagliks tyd saam met God om Sy stem vir jou lewe te hoor.  Daar is oorvloed seën in Sy teenwoordigheid.  Hy is ons grootste Leermeester en het al die antwoorde op ons vrae.  Die sleutel is om op Hom te wag.

Ps 62:6 “Net by God vind ek rus, want op Hom vertrou ek”.

Ons kan soms so besig wees soos Martha, dan mis ons uit op die vreugde wat ons in Jesus kan vind.  Maria het gekies om by Jesus se voete te gaan sit en toe te laat dat Hy haar leer.

Martha aan die anderkant, was besorg oor die wêreldse dinge, wat ook belangrik is, maar sy het uitgemis op die seën van Sy teenwoordigheid.

Lukas 10:41-42 “ Maar die Here antwoord haar: “Martha, Martha, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, maar net een ding is nodig.  Maria het die beste deel gekies en dit sal nie van haar weggeneem word nie.”

Soms moet ons net kies om stil te word en by ons Leermeester se voete te gaan sit, sodat  Hy ons kan vul.

Deur besig te wees, word ons uitgeput en is dan soos leë kruike wat niks het om te bied nie.  Ons moet daagliks gevul word sodat ons kruike kan oorloop om ‘n  seën vir ander te wees.

Dit is tog ons diepste vervulling om ‘n vrugbare lewe te lei.  Dan bereik ons God se doel met ons lewens.

Jy is geroep om waar jy beweeg en leef ‘n verskil te maak.  Wanneer jy naby aan Jesus leef, dan word jy sensitief vir Sy stem en kan jy ‘n verskil maak.

Maria het die beste deel gekies, wat kies jy?

Geskryf deur Liezel Pretorius