Genade Reën


Die reën val saggies op my kar se ruit en die dankbaarheid vir die Gewer van hierdie wonderlike bederf omvou my vanoggend en vertroetel en voed my dors siel. “Here”, dink ek, “hoe goed is U nie. Hoe wonderlik is U dat U my, klein mens, raaksien en weet hoe nodig ek hierdie reën vanoggend het”.

So ruk terug was die aarde droog. Ek onthou hoe die droog aan my geklou het. My hele wese het die droogte beleef. Dit was ‘n morbiede, harde droogte sonder einde. Elke oggend was daar hoop van reën, maar die wolke het bly oorwaai. Ek het gewonder oor wat ons nog kan doen. Bid was baie. Kla was meer. Dit was ‘n woestynseisoen wat my deurlopend herinner het aan hoe afhanklik ons van die Here se goedheid en genade is.

In hierdie lewe moet ons soms deur die woestyn loop. Die loop kan ver wees, en dit voel nimmereindigend lank. Daar is uitdagings wat die laaste vog uit jou tap en die lewe skroei jou met sy seermaak-strale. Die pad is hard en dalk alleen. Tog is dit op hierdie woestynpaaie waar ons baie male die Here weer ontmoed. Soms moet ons gestroop word van alle aardse afleidings voordat ons Sy stem vir ons helder hoor. Hierdie woestyn is die plek waar jy jou afhanklikheid van die Here weer besef en dan kan uitroep en vra, en ja, soms ook kla.

“Casting the whole of your care [all your anxieties, all your worries, all your concerns, once and for all] on Him, for He cares for you affectionately and cares about you watchfully.” 1 Peter 5:7

Die Here is so goed vir ons, en daarom laat Hy juis die woestyn-seisoene toe. Baie keer moet ons terugdraai en ons fokus verskuif. Baie keer moet ons gestroop word van onsself sodat Heilige Gees ons kan volmaak met Hom.

Mag ons nooit ophou glo dat ons God ‘n goeie God is wat ons soms toelaat om deur die woestyn te gaan, sodat ons na Hom toe sal draai en Hom sal soek.
Eers wanneer ons Hom soek en Heilige Gees toelaat om ons te bedien, kan ons jubel en juig in Sy reënseisoen van genade, liefde en hoop.

Geskryf deur Nala Victor