Kinderbediening in ‘n Kitswêreld


Vandag se kuberkinders word in ‘n kitswêreld groot waar daar baie meer kennis tot hul beskikking is as dertig jaar terug. Ek verstom my altyd aan die manier waarop kinders, sonder om te aarsel, hul weeklikse skedules kan opsê. Ek word elke Sondag ingelig oor die nuutste gebeure in die land se politiek of selfs hoe ek my ekstra geldjies in Bitcoin moet investeer.

Het jy al ooit gewonder waaroor jou kind gesels in die Kinderkerk klasse? Ken jy die pad waarop jou kind stap in sy persoonlike verhouding met Jesus? Watter tipe saad groei in jou kind se geestelike lewe?

Hulle sê mos altyd uit die mond van die suigeling sal jy die waarheid hoor. ‘n Paar van die stellings wat kinders al gemaak het op ‘n Sondag roer al vir ‘n geruime tyd hier in my hart. Hierdie stellings laat my net weer besef dat kinders ook ‘n geestelike honger het vir ‘n verhouding met Jesus. Elke ouer en geestelike werker behoort stellings soos hierdie as geleenthede te sien om die regte saad te saai wat sal vrug dra in die kinders se geestelike lewens.

 

“My ma het gesê ek mag nie ‘n aktiwiteit huis toe vat nie want dit lê net in die kar.”

Wonderlik! Terwyl die weeklikse Kinderkerk of Kleuterkerk aktiwiteit reeds in die kar is, kan julle daaroor gesels op pad skool toe. Wanneer jou kind vir jou vertel wat hy/sy Sondag geleer het, sal jy nog meer leer oor jou kind se geestelike volwassenheid en die pad wat hy/sy met die Here stap. Saam kan julle elke dag die nodige geestelike saad plant, water gee en vir God toelaat om dit te laat groei, sodat dit sal vrug dra in julle albei se lewens (1 Korintiërs 3:6). Boonop sal julle so lekker gesels oor die dinge van Here, dat jy dalk die spoedvarke en persone wat oor die sperstrepe ry ook begin miskyk.

 

“Juffrou kyk my Bybel… gewoonlik as ek my Bybel saambring kry ek ‘n swietie.”

Dit is werklik belonend om jou Bybel goed te ken. Psalm 119:105 leer vir ons dat God se Woord lig bring op mens se pad. Dit is die verantwoordelikheid van elke ouer en geestelike werker om kinders na die lig te bring en hul honger te maak vir God se Woord. Dit mag wel ‘n groter uitdaging wees om tyd te kry in ‘n kind se besige skedule om hom/haar te leer uit God se Woord. Nietemin is tegnologie hierdie keer aan ons kant.  Daar is ‘n gratis “toep” beskikbaar genaamd “Bible App for Kids”. Dit kan op enige slimfoon of toestel afgelaai word en bring die mooiste Bybelverhale na die kinders toe- in hul eie taal. Die Bybelverhale word op ‘n baie interaktiewe wyse aan kinders vertel. Maak gebruik van die tegnologie om jou kind se geestelike honger na God se Woord te verdiep.

“Ek weet nie hoe om te bid nie, want ek kan nie vir Jesus sien nie.”

Paulus bemoedig die kerk in Korinthe deur te sê dat ons moet leef deur geloof en nie deur te sien nie (2 Kor. 5:7). Hierdie is ‘n konsep waarmee selfs volwassenes soms sukkel. Die heel beste manier hoe ouers en geestelike leiers vir kinders kan help om die waarde van gebed te besef is deur te lei as voorbeeld. Hoe gereeld bid ons voor ons kinders? Is ons te skaam om voor hulle die onkruid in ons eie harte vir God te bely? Wanneer ons kinders toelaat om deel te wees van ‘n gebed waar ons ons harte oopmaak voor God, kan dit hul ‘n meer tasbare gevoel gee van God se vaderlike ontferming oor dié wat na Hom toe kom.

 

Vandag se kitswêreld het verskeie uitdagings vir die regte saad om te groei in kinders se geestelike lewens. Gelukkig is daar niks wat die goeie lewegewende saad kan verhoed om te groei nie. Deur saam hande te vat, kan kinders, ouers en geestelike werkers selfs die uitdagings van die kitswêreld gebruik om die regte saad te saai.

Geskryf deur Annette van Baalen