Hoe om jou Bybel te lees


Verlede week het ek verduidelik hoekom dit belangrik is om jou Bybel te lees, maar dit help nie ons weet net dat dit belangrik is nie, ons moet ook weet hoe om dit te doen. Hier is ʼn paar wenke om jou te help. Van die punte het ek geleer by ander mense en ander pas ek self toe omdat dit my help groei in my Bybellees dissipline.

Kies ‘n tyd en plek

Die belangrikste ding wat jy moet onthou is nie om tyd te kry om die Bybel te lees nie, maar eerder om jouself te oortuig dat dit belangrik genoeg is om daarvoor tyd te maak. Jy sal maklik deur die Bybel in ‘n jaar kan lees as jy elke dag so 15 minute lees. Die opnames vir die Audio Bybels is tussen 75 en 85 ure. Dit is tussen 12 en 14 minute per dag en baie mense lees vinniger as wat hulle praat. Dissiplineer jouself om tyd te maak. Probeer dit ‘n vaste tyd, elke dag te maak. Probeer om dit nie net voordat jy gaan slaap te doen nie. Onthou, as jy nie op ʼn konstante basis jou Bybel lees nie, sal jy nie geestelike groei nie. ‘n Klein gedeelte op ʼn konstante basis is beter as ‘n groot stuk so nou en dan. Maak dit jou beste tyd van die dag – party mense is oggend mense, ander is aand mense. Die Bybel is nie voorskriftelik daaroor nie, maar die algemene tendens wat ons sien in die Bybel is vroegoggend.

Kry ‘n leesplan

‘n Leesplan is ʼn uiteensetting van watter gedeeltes jy elke dag moet lees. Dit is kan van 2 dae tot ‘n jaar wees. Dit help jou net om op ‘n konstante basis in jou Bybel te lees. As jy die Bybel sonder ‘n plan lees – ‘n vers hier en ‘n vers daar – kan jy amper gewaarborg wees dat jy nie die hoof-konsepte en leringe in die Bybel sal verstaan nie. Die grootste gedeelte van die Bybel is bedoel om in paragrawe en gedeeltes gelees te word. Sommige leesplanne help jou deur ʼn spesifieke gedeelte van die Bybel te lees in ‘n spesifieke tyd en ander planne is tematies van aard en help jou na al die gedeelte in die Bybel kyk wat handel oor die spesifieke tema. Indien jy nog nie die YouVersion Bible App op jou foon afgelaai het nie, moet jy dit kry. Dit is ‘n gratis toepassing op jou foon met al die vertaling van die Bybels en duisende leesplanne wat jy kan volg.

Lees ‘n Bybelvertaling wat jy verstaan

Hierdie is nie die plek om in te veel detail in te gaan oor Bybelvertalings nie en party mense hou daarvan om daaroor te stry. Die Heilige Gees is die Een wat die waarheid in die Bybel vir ons oopbreek, nie ons vermoë om alles te verstaan nie. Ek het te veel al gesien hoe boere, Afrikaanse kinders ‘n Kings James Version Bybel moet probeer lees omdat iemand dit aanbeveel het as die beste en hulle kan nie eers ‘n woord verstaan wat daar staan nie. Vertrou meer die Heilige Gees om die waarheid vir jou oop te breek wat jy lees en verstaan wat jy lees. Ek dink al die verskillende vertalings verryk ons verstaan van God se hart. Ek beveel ook aan dat jy eerder ‘n papier Bybel lees in jou stiltetyd as op jou foon. Ek het net gevind dat boodskappe en notifications meer deurkom op jou foon as jy juis besluit om nou Bybel te lees en ons nuuskierigheid wat op sosiale media aangaan help ook nie die saak nie. Die gevaar is dat jou “ek gaan net vinnig kyk” meer van jou Bybellees tyd in beslag neem, as jou Bybellees.

Werk met ‘n plan

Ek hou daarvan om ‘n plan te volg as ek my Bybel lees. Ek begin altyd deur eers te bid en die Here te vra om my te help en die woorde wat ek lees oop te breek sodat ek meer sal verstaan as net die woorde wat op papier staan (Sien Psalm 119:18 en Jeremia 33:3). Daarna sal ek ‘n gedeelte lees, soos besluit of my leesplan voorskryf. Vra vrae wat jou sal help om die feite uit die gedeelte te haal. Wat word aangespreek? Wat beteken daardie woord? Hoe loop die gedagte vloei? Hoekom is dit gesê? Maak seker dat jy nie ‘n woord, frase of vers verkeerdelik interpreteer en nie in lyn met die konteks van die gedeelte en die res van die Bybel nie. Toets jou gevolgtrekkings deur te vra: “sou die skrywer bedoel het dat sy oorspronklike lesers dit ook só moes interpreteer soos ek dit tans doen?” Ek soek altyd na ten minste een ding wat vir my uitstaan en ek probeer deur die dag daar oor nadink. Dawid maak dit duidelik dat ons moet nadink of mediteer oor die Woord. Ons moet dit herkou sodat ons al die voedingswaarde daaruit kan put. Ek gebruik ook verskillende kleure highligthers en penne om spesifieke temas wat ek raak lees te onthou. Nadat ek gelees het sal ek bid en met God ook praat oor dit wat ek gelees het en Hom vra om my te help doen wat vir my uitgestaan het.

Hou ‘n pen en papier naby

Party mense hou daarvan om in ‘n joernaal te skryf watter nuwe insigte die Heilige Gees vir hulle oopgebreek het en om dit later weer deur te lees en daaroor te dink. Dit is soms ‘n wonderlike oefening om die hoofpunte van die gedeelte en die persoonlike toepassing daarvan neer te skryf. Dit dwing jou om te dink aan die betekenis van die gedeelte en hoe jy daarteenoor moet reageer, eerder as om dit net deur te lees. Onthou die doel is nie om deur die Bybel te kom nie, maar eerder om die Bybel in jou te kry.
Party mense sukkel egter om ‘n joernaal te hou. Ek het egter al agter gekom ek moet net ‘n pen en papier naby hou omdat die duiwel my gereeld in die tyd wat ek Bybellees kom herinner aan alles wat nog gedoen moet word by die werk en alles wat ek vergeet het om te doen. Dit maak dat ek nie meer kan fokus nie. Partykeer is dit net nodig om daardie goed neer te skryf sodat jy dit nie vergeet nie en dan aan te gaan.

Wees gehoorsaam aan dit wat jy lees en vertel iemand

Moenie net vrae vra om te verstaan wat die gedeelte sê nie, maak seker jy vra toepassingsvrae ook – Wat moet ek doen? Wat moet ek leer? Wat moet ek glo? Watter sondes moet ek bely en van wegdraai? Hoe moet ek reageer? Wanneer iets vir jou uitstaan, skryf dit neer of vertel vir iemand wat jy ervaar het en gaan doen dit. Baie keer wil ons nuwe “openbarings” van God hê, maar ons het nog nie die vorige ding gedoen wat Hy gevra het ons moet doen nie. Jakobus sê ons moenie net hoorders van die Woord wees nie, maar ons moet doen wat die Woord sê. Dit is waar die verandering begin en hoe ons die waarde van die Bybel werksaam sien in ons lewe.

Geskryf deur Petrie Spies