Hoekom is Dit Belangrik om Bybel te Lees?


In die Christelike lewe is daar verskeie geestelike dissiplines wat ons op ʼn plek bring waar die Heilige Gees ons kan verander om meer en meer soos Jesus te word. Dit sluit in gebed, Bybellees, vas, mediteer oor die Skrif, dien, alleentyd, versies memoriseer, en nog vele meer. Van al hierdie geestelike dissiplines is Bybellees by verre een van die belangrikste.

Die rede hoekom baie mense “onfiks” is in hulle geestelike lewe is juis omdat hulle nooit oefen met Bybellees nie. Geen ander geestelike dissipline het meer invloed op ʼn persoon se morele en sosiale gewoontes as gereelde Bybellees nie. Selfs in Jesus se gebed in Johannes 17, sê Jesus dat ons toewyding aan God word direk beïnvloed deur die Woord (vers 17) en Jesus het ook gesê dat die rede hoekom ons dwaal is juis omdat ons nie die Skrif ken nie (Matteus 12:24). Daar is geen ander dissipline wat kan opmaak vir Bybellees nie. Geen Christen wat nader en nader groei aan God gaan sonder Bybel inname van een of ander soort nie.

 

Een van die boeke in die Bybel is die tweede brief wat Paulus aan Timoteus geskryf het. Timoteus was ʼn jong man wat in bediening was en Paul skryf hierdie briewe om hom te motiveer en te leer. In 2 Timoteus 3:14-17 beklemtoon Paulus iets van die belangrikheid van die Bybel:

“Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeester was en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.”

 

In hierdie gedeelte is daar ʼn paar dinge wat Paulus uitlig en wat ek en jy moet onthou:

 

1. Die Bybel is lewend en kragtig
Paulus herinner Timoteus dat hy moet bly wat hy van kleins af geleer het. Baie van ons wat in Suid Afrika groot geword het, het al baie stories uit die Bybel gehoor, baie preke gehoor, baie Sondagskoollesse gehoor, baie skoolopeninge, VCSV weke, ensovoorts. Daar is ʼn algemene kennis van die Bybel, maar dit is iets heel anders om te leef soos die Bybel sê; om daarby te bly. Paulus sê ons moet bly by wat ons geleer het en nie daarvan afwyk nie. Die Bybel is Heilig, die waarheid en daar is geen ander boek soos die Bybel nie. Ek het gevind dat baie mense het meer respek vir die boek waar daar Die Bybel op die voorkant staan, as vir die Woord van God. Hebreërs 4:12 maak dit duidelik dat die Woord van God is lewend en kragtig en kan die diepste motiewe, sonde en verkeerdhede in ons binneste uitwys. Die Bybel was nog altyd ʼn spieël om te sien hoe ons moet verander sodat ons meer en meer soos God word. Te veel mense gebruik egter die Bybel as ʼn venster waardeur ander mense dopgehou word om te sien hoe verkeer hulle lewe en hoe hulle moet verander. Die Bybel het krag om ons lewens te verander, maar dit werk nie deur osmose nie. Ons moet self die Bybel lees en nie net leer by ander mense wat die Bybel lees nie.

 

2. Die Bybel leer ons van Jesus
Paulus sê vir Timoteus, die Bybel kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus. Om jou Bybel te lees maak nie dat jy hemel toe gaan nie – alleen geloof in Jesus Christus kan dit doen, maar dit leer jou meer en meer wie Jesus is. Hoe meer ek en jy verstaan wie God is en wat Hy vir ons gedoen het, hoe groter vertroue en geloof kan daar in Hom wees en hoe makliker word dit om te doen wat Hy wil hê ons moet doen. As ʼn vreemdeling vir jou vra om iets te doen, gaan jy nie sommer net instem daartoe nie, maar as een van jou goeie vriende wat jy vertrou om vir jou iets vra om te doen sal jy dit doen omdat jy hom/haar ken en vertrou. Baie mense sukkel om te doen wat God vra want hulle ken nie eintlik vir Jesus nie en sukkel om Hom te vertrou. Wanneer jy jou Bybel lees, leer jy meer en meer ken wie Jesus is en hoe wonderlik en groot Hy is en hoe lief Hy jou het.

 

3. Die Bybel help jou verander
In vers 16 sê Paulus die Bybel het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek. Jesus maak dit duidelik dat Hy waarheid is (Joh. 14:6). Die Heilige Gees is die Gees van waarheid (1 Joh. 5:6) en God se Woord is die waarheid (Joh. 17:17). Die Bybel leer ons wat is waar in hierdie lewe – oor geld, vriendskappe, besigheid, huwelik, ensovoorts – en maak dit vir ons moontlik om die leuens wat die wêreld vertel te identifiseer. Die Bybel leer ons wat is verkeerd en wat ons moet verander in ons lewe en wat is sonde, maar dit leer ons ook hoe om die verkeerdhede reg te stel. Dit bou ons ook op sodat ons reg kan lewe en die lewe in oorvloed kan geniet wat Jesus vir ons kom gee het. Die rede wat Paulus gee hoekom die Bybel al hierdie dinge doen is juis sodat ons volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk. Ons leef nie vir onsself as Christene nie. Ons leef vir God. Ons het ʼn taak in hierdie lewe en God werk deur ons na hierdie wêreld toe. Ons is sy ambassadeurs. Ons is sout en lig vir hierdie wêreld. Wanneer ek en jy die Woord lees en toelaat dat dit ons verander en verkeerdhede regstel en ons gedagtes kom verander in lyn met sy waarheid, word ons voorberei en toegerus om juis te kan uitgaan en iets te beteken vir mense en juis om hulle ook te help om reg te leef.

 

Volgende week gee ek jou ʼn paar wenke hoe om jou Bybel te lees.

Geskryf deur  Ds. Petrie Spies