Genade


GENADE
“Gracious (kind, merciful and giving favour) to you”. Amplified“

Die afgelope tyd dink ek so baie aan genade. Dalk is dit omdat ek met my groen genade-kar ry terwyl my dogter my motor gebruik. Ek wonder of genade ‘n kleur het, soos die bottelgroen ou Mercedes wat my ouers ons mee gesëen het toe ons nie ‘n ryding gehad het nie. Dalk is dit wit, soos my eerste, amper nuwe wit motortjie, ‘n Volkswagen Vivo met registrasienommer FGL – For God Loves. Wit is darem mos ‘n rein kleur ook. Ek wonder hoe genade ruik. In die Vrystaat, dink ek, ruik genade soos reën. Dalk ruik dit na ‘n lekker bord kos na ‘n vol dag se werk. Soms ruik dit dalk soos jou kussingsloop as jy moeg is, of ‘n klein babalyfie wat snoesig op jou skouer lê.
Genade kom soms na baie swaarkry. Dis ‘n uitkoms van reën na ‘n droogte, of die veilige aankoms van ‘n babatjie na ‘n moeilike swangerskap. Soms is dit ‘n kospakkie vir iemand wat nie kos het nie, of ‘n nuwe werk waarvoor jy lank gewag het….maar ek dink genade is soveel meer.

“Johannes 1:16 “Uit Sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang.”

Genade is daardie vriendin wat jou bederf met ‘n beker ‘hot chocolate’. Dit is die roosterbroodjies wat jou ma aandra as jy siek is. Genade is die dokter met ‘n sagte stem wat ‘n slegte boodskap bring, of die familie wat saam met jou huil oor julle verlies. Dis die koue van die winter op jou vel sodat jy sal onthou hoe koud voel. Genade is elke dag se opstaan en weet dat jou Vader reeds ook hierdie dag wat voorlê opgeteken het en reeds voorsiening gemaak het vir dit wat nog moet kom.

“Efesiërs 1:5 “Deur Sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredinge, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered!”

Genade was ‘n Babatjie in ‘n krip en ‘n Seuntjie wat in die tempel geleerdes geleer het. Genade was ‘n jong Man wat water in wyn verander het om ‘n huwelikspaartjie ‘n verleentheid te spaar. Genade was die breek van ‘n paar broodjies en vissies om baie kos te gee. Genade was in woorde wat die dooies beveel het om op te staan, die blindes om te sien en die dowes om te hoor. Daar aan die kruis het genade na bloed geruik en dit was rooi. Genade het die prys betaal en die Vader gevra vir ander se vergifnis. Meer as al hierdie dinge is genade ‘n oop graf en ‘n wonderlike almagtige Hemelse Pa wat ons raakgesien het en Sy Seun wat die prys kom betaal het.
“Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop Sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heelike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot Sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van Sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan Sy regterhand laat sit het: hoog bo alle bose magte en enige ander vorm van gesag waarvan daar sprake mag wees, nie net in hierdie bedeling nie maar ook in die bedeling wat kom. Aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk. Die kerk is Sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.
”Efesiërs 1:18-23″ Mag jy ook vandag en elke dag Sy genade raaksien. Mag elke hand wat help dra, selfs as dit sleg gaan, vir jou uitroep dat Hy goed is en jou raaksien.

“My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”2 Korintiërs 12:8
Geskryf deur Nala Victor