Daniël het Gesê…


Break chains
“Daniël het gesê: “Mag die Naam van God altyd geprys word, Hy aan wie die wysheid en die mag behoort, Hy wat tye en omstandighede verander, wat konings afsit en konings aanstel, wat aan die wyse manne die wysheid gee en die verstand aan dié wat insig het, wat ondeurgrondelike en verborge dinge openbaar en wat weet wat in die duisternis is; by Hom is die lig.”” Daniël 2:22.

Ons praat baie oor die omstandighede in ons land . Ons staan stil-geskok deur dinge wat gebeur en dinge wat toegelaat word om te gebeur. Korrupsie, moord  en diefstal is alledaags. Wat mens soms meer skok as al hierdie dinge is juis die feit dat hierdie dinge mens nie meer skok nie. Ons raak half afgestomp oor alles wat gebeur en ek dink die situasie lyk soms so hopeloos dat mens geneig is om morbied en sinies te raak. Hierdie gesindheid vorm later deel van jou wese en daardie morbiede beeld word uitgedra na die mense om jou.

Ek staan ‘n ruk terug in ‘n winkel om ‘n paar nodige goedjies te koop. Die ry is  lank en dit gaan stadig. Ek is defnitief aandag-afleibaar en moet myself besig hou met allerhande dinge. Ek vroetel in die lekkergoedrakke langs my, maar daar is al die dinge wat ek nie mag kou nie. Ek lees die opskrifte op die tydskrifte – “same old, same old”, dink ek. Dan beloer ek my mede rystaanders. Driekwart lyk haastig en geirriteerd met die lang wag. Ander tik benoud op die selfoon. Die res kyk stip voor hulle uit. Hier en daar vang ek iemand se oog en glimlag. Hulle oë dwaal weg en staar weer strak die verte in. Uiteindelik kom ek voor. Die dame by die til is vriendelik en behulpsaam. Haar glimlag demp die irritasie van die lang ry en zombie mense en ek voel sommer lekker toe ek eindelik daar uitloop. Sy was nou soos ‘n oase in die woestyn.

Ja, die dinge lyk baie keer donker en ons hoor van mense wat in magsposisies sit en dit totaal misbruik. Ons staan magteloos en toekyk en het nie regtig beheer daaroor nie. Dan kry ons ook alledaagse uitdagings. Ons kry onvriendelike mense wat ons dag versuur en ons kry lang toue wat ons geduld toets. Dit is deel van die lewenspad wat ons loop. Die vraag wat ek vandag wil vra is: Watter skakel wil jy in hierdie ketting wees? Die ou wat stip vooruit staar? Die ou wat negatiewe kritiek rond gooi? Die geirriteerde ou wat onvriendelik die tildame bestorm, asof sy die lentge van die tou bepaal? Of wil jy dalk ook ‘n oase wees in die woestyn?

“Praat mekaar moed in en versterk mekaar…” 1 Tessalonisense 5:11

Kom ons wees die mense wat bemoedig. Kom ons wees die behulpsame ou aan die ander kant van die tou. Aan baie dinge kan ons niks doen nie, net die Here kan. Tog kan ons ons eie gesindheid bepaal.

“Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.”Romeine 12:21

Mag ons by Here Jesus gaan aanklop vir wysheid en verstand sodat ons die mense om ons met insig en liefde sal hanteer. Mag jy en ek deel wees van Sy lig in hierdie donker wêreld.

Glo vandag saam met my dat die Here Jesus die mag het om omstandighede te verander en om die regte mense in die regte posisies te plaas. Ons is in hierdie wêreld om juis hoop te bring vir die lang rye hoopverlore mense.

“Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag. Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.” 2 Petrus 3:8-9

Geskryf deur Nala Victor